E-TOLSTELSEL
E-TOLSTELSEL
Vandag het die konstitusionele hof die interdik wat teen die e-tolstelsel toegestaan is tersyde gestel. Ek spel graag vir u die implikasies hiervan uit en dui die pad vorentoe aan.
In terme van die uitspraak kan SANRAL onmiddellik voortgaan met die implementering van die e-tol stelsel. Daar is egter praktiese probleme wat die onmiddellike implementering onmoontlik maak, soos:
1. Die wetgewing wat die afdwing van die toltariewe moontlik maak is nog nie deur die parlementêre proses nie en gegewe die tyd wat oor is sal moontlik eers volgende jaar hanteer word;
2. Die VF Plus het SANRAL se belaglike hoë tariewe vir nie-skyfie padgebruikers na die Verbuikerskommissie verwys om dit ongeldig te verklaar. Die saak gaan steeds voort. Dus kan SANRAL tegnies nie daardie tariewe aanwend nie en kan nie-skyfie padgebruikers geensins gedwing word om betaling te maak vir die gebruik van die hoofweg nie. Daarom adviseer ons ook padgebruikers om nie onder enige omstandighede e-tol skyfies tekoop nie.
3. Die wetgewing en proses om kennisgewings vir betaling uit te stuur sal geskied deur middel van die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Verkeersoortredings 46 van 1998 (beter bekend as "AARTO") wat tans op toetsbasis in Johannesburg en Pretoria toegepas word. AARTO word egter nie behoorlik toegepas deur die verkeersowerhede nie, aangesien bykans alle boetes onwettig uitgestuur word. Volgens artikel 30 van die AARTO wet moet alle kennisgewings en boetes of per geregistreerde pos afgelewer word of persoonlik beteken word. Dit gebeur egter nie en kennisgewings word bloot per gewone pos versend. Daar bestaan ook verskeie ander probleme ten aansien van AARTO. Aangesien die owerhede AARTO nie behoorlik toepas nie gaan die VF Plus die moontlikheid ondersoek om 'n interdik te kry teen die toepassing van AARTO, totdat die owerhede in staat is om AARTO behoorlik toe te pas. Dit sal ook die implementering van die e-tolstelsel wesenlik vertraag.
4. Die hofaansoek teen die minister van vervoer oor die irrasionele besluit om die e-tolstelsel te implementeer instede van ander koste-effektiewe belastingstelsels, soos 'n heffing op die brandstofprys, word nie geraak deur die uitspraak van die konstitusionele hof nie en sal steeds in November 2012 voorkom. Die VF Plus is van plan om ook aan die saak deel te neem.
Dus is die stryd vêr van verby. Die VF Plus sal voortgaan met hofsake om die irrasionele stelsel wat almal verder gaan verarm te bestry. Intussen versoek ons dat u hierdie boodskap aanstuur aan vriende en familie wat nog nie die petisie onderteken het nie. Ons sal, benewens ons ander aksies, die petisie aan die parlement en minister van vervoer oorhandig. Die petisie is te vinde by www.tolhekpetisie.org.za.
HERAFBAKING VAN MUNISIPALITEITE
Ek wil u ook graag in kennis stel van 'n ander belangrike kwessie wat nie baie prominent is nie, maar wat baie ernstige implikasies inhou vir ons toekoms.
Die Provinsiale Regering in Gauteng is besig met 'n proses om munisipale gebiede in Gauteng weer af te baken en wil sekere grense skuif vir die skep van nuwe metros:
1. Wesrand: Die saamvoeg van Krugersdorp, Randfontein, Westonarea, Carltonville (Merafong) en die Wesrand distriksmunisipaliteit in een nuwe metro;
2. Vaaldriehoek: Die saamvoeg van Lesedi, Emfuleni, Midvaal en die Sedibeng distriksmunisipaliteit in een nuwe metro.
Die probleem hiermee is dat hierdie herafbakening die Provinsiale Regering gaan bevoordeel deur die saamvoeg van gebiede waar die beherende party demografies sterk staan. Dit beteken die opposisie se verkiesingprestasie en verteenwoordiging sal in die metros kleiner word. Verder sal hierdie herafbakening beteken dat dienslewering verder agteruit sal gaan omdat metros ontaard in groot administratiewe kolosse wat nie al die eise van inwoners kan hanteer nie.
Daar is egter nog tyd om hierteen beswaar te maak deur ons petisie te teken by www.mymunisipaliteit.org.za. Kliek op die skakel links bo wat lees"Munisipale Petisies". Ons moet saamstaan om die proses van die Provinsiale Regering te stop!

