Altesaam vyf renjaers is benoem vir die Bridgestone/Gilde van Motorjoernaliste se 2011-“Motorsportman van die Jaar”-toekenning, wat op 28 Februarie by ’n spesiale geselligheid in Johannesburg aangekondig sal word. Nog vyf is vir die Colin Watling-toekenning benoem, wat ’n groot bydrae en sukses deur nie-deelnemers in motorsport erken.
Dit is die 18e jaar dat Bridgestone dié mees gesogte toekenning in plaaslike motorsport borg. Die toekenning strek terug tot 1965 en erken en beloon die skitterende en merkwaardige sukses van Suid-Afrikaanse renjaers.
Die benoemdes is (in alfabetiese volgorde):
Motorsportman van die Jaar:
David MacFadden, ’n voormalige motocross-jaer en wat op ’n 600 cc-Kawasaki-motorfiets jaag, het die uiters mededingende Suid-Afrikaanse Supersport-kampioenskap in 2011 in maar net sy tweede jaar van deelname gewen.
Cristiano Morgado het die Meestersafdeling in die Rotax Max-renstelwêreldkampioenskapseindren, die grootste internasionale renstelbyeenkoms ter wêreld, in Al Ain, Abu Dhabi, gewen. Hy het jaers van 60 lande geklop en sy tweede wêreldkampioenskapstitel beklink nadat hy destyds die Senior afdeling in die 2004-Rotax Max- renstelwêreldkampioenskapseindren gewen het.
Sheridan Morias het hom skitterend in die internasionale FIM SuperStock 1000-kampioenskap laat geld. Dié driemalige Suid-Afrikaanse Superfietskampioen het op ’n Kawasaki van die Italiaanse Lorenzini-span gejaag en een keer ’n podiumposisie behaal voordat hy tiende algeheel in die reeks geëindig het. Hy het ook nog tyd gemaak om op ’n Kawasaki aan die Suid-Afrikaanse Superfietskampioenskap deel te neem en het as naaswenner uit die stryd getree ten spyte daarvan dat hy drie van die agt rondes misgeloop het. Hy het agt van die tien renne waarin hy gejaag het, gewen.
Leeroy Poulter se tweede seisoen in die nasionale tydrenkampioenskap en sy eerste in die topklas, Klas S2000, was opspraakwekkend, om die minste te sê. Leeroy, wat in ’n fabrieksingeskrewe Toyota Auris gejaag het, het sy tweede byeenkoms, die Sasol-tydren, en daarna ook die MTN-Polokwane-tydren, gewen. Hy het die seisoen as die hoogste gegradeerde jaer afgesluit. Poulter, wat ook ’n voormalige Suid-Afrikaanse produksiemotorkampioen is, het na die S2000-klas opgradeer nadat hy die S1600-kampioenskap in 2010 in sy heel eerste jaar in tydrenne gewen het.
Michael Stephen het die Bridgestone-produksiemotorkampioenskap by die talle titels wat hy al in renstelle en sedanmotorrenne gewen het, gevoeg. Hy het die 2011-kampioenskap oortuigend in sy Klas A-Audi S4 gewen nadat hy tien renne gewen en 22 podium-posisies, twee voorste wegspringposisies en vyf keer die vinnigste rondtetyd beklink het. Hy het op die vooraand van die laaste byeenkoms van die jaar ’n agterstand van een punt agter die kampioenskapsvoorloper gehad en met ’n voorsprong van meer as 20 punte uit die stryd getree nadat hy al vier die laaste byeenkoms se renne gewen het.
Die Colin Watling-toekenning:
Die baanbeamptes van die Kyalami-baanbeamptesvereniging, ’n klein kerngroepie vrywilligers wat motorsport op die ondankbaarste en vaalste manier ondersteun. Hulle is nie net op Kyalami aktief nie; dieselfde groep mense werk ook by ander renbane en by tydrenne en veldrenne om te help waar hulle kan vir geen ander rede as hul onbaatsugtige toewyding tot motorsport nie. Hulle is nooit in die kalklig nie, en ’n mens sal hulle altyd op allerhande streeksbyeenkomste aantref waar dieselfde toegewyde groepie altyd diens doen. Motorsport sou baie armer sonder hierdie mense gewees het.
Yoshyiaki Nakamura, die uitvoerende hoof van Honda Suid-Afrika, bevorder en ondersteun die Suid-Afrikaanse Motorfietsry-akademie, ’n skool wat Honda se NSF100-motorfiets gebruik om jong ryers van alle rasse en albei geslagte tussen die ouderdomme van 8 en 13 jaar oud op te lei. Hierdie soort motorfietsrenne het só gegroei dat ’n Honda NSF100-internasionale renbyeenkoims in November 2011 by die Red Star-renbaan gehou is. Nakamura San het 10 Honda CBR 250R-produksierenfietse vir streekrenne en 15 NSF 250 RC 4-slag-motorfietse ingevoer sodat jaers aan kragtiger masjinerie gewoond kan raak en in die nuwe internasionale Moto3-klas in Suid-Afrika kan deelneem. Sy ondersteuning en entoesiasme vir Suid-Afrikaanse motorfietsrenne en opleiding van jong ryers om hulle deur die rangorde te help vorder, was ontsaglik.
Mike Rowe, motorsportbestuurder van Volkswagen, is verantwoordelik vir die suksesvolle bestuur van drie afsonderlike nasionale motorrenreekse wat deur Volkswagen geborg word. Sy toewyding en entoesiasme het daartoe gelei dat hierdie renafdelings aansienlik gegroei en ’n beduidende bydrae tot plaaslike motorrenne gelewer het. Die enkelfabrikaat-Volkswagen-bekerrenne vir VW Polo Vivos het tot een van die gewildste renafdelings wat van die beste ondersteuning geniet, gegroei en genooide jaers soos Sarel van der Merwe is ’n gewilde kenmerk van die reeks.
Richard Schilling, die president van Motorsport Suid-Afrika se Veldrenkommissie vir motors, en ’n voormalige president van MSA, is in 2011 aangestel om Suid-Afrika op die FIA se veldtydrenkommissie te verteenwoordig. Richard, wat Suid-Afrikaanse motorsport sterk op internasionale vlak aanvoer, het talle ure aan die suksesvolle bestuur van veldrenne bestee – stellig Suid-Afrika se suksesvolste renformule wat nie op renbane beslis word nie. Hy dien ook op die MSA Tydrenkommissie. Schilling is ook lid van MSA se nasionale appélhof, waar hy baie ure aan billike oplossings vir stryery in motorsport wy, en dien al ’n hele paar jaar in hierdie liggaam.
Clare Vale is ’n renjaer en staan aan die stuur van sake in die MSA se Vroue in Motorsport-inisiatief, wat ’n uiters suksesvolle Vrouedag-byeenkoms by Zwartkops gereël het waarin die sukses van vroue in die sport beklemtoon is en vrouedeelnemers aangemoedig is om die wêreld van motorsport te betree. Clare het moeiteloos daaraan gewerk om vroue te oortuig om deel te neem en hul beste te doen. Sy het in 2011 die Forum vir Vroue in Padveiligheid begin waar ’n aantal invloedryke en magtige vroue in die motorwêreld saamspan om die behoefte te beklemtoon dat baie meer gedoen moet word om padveiligheid te bevorder. Sy is ook baie suksesvol met die insameling van geld vir waardige gevalle en gebruik motorsport om dit te bewerkstellig. Sy het ’n doeltreffende ambassadeur vir motorsport geword en is baie meer as net ’n renjaer.